Leigh Dunn, ’n onderwyser by die Formosa primêre skool in Plettenbergbaai, sê  gr. R is baie belangrik vir ’n kind se ontwikkeling. Maar hy voeg by die regering het dit nog nie verpligtend gemaak nie. Leigh spesialiseer in die onderrig van kinders met spesiale behoeftes en was een van die ster-onderwysers wat in Huisgenoot, YOU en Drum se Kopskuif-onnies-projek, in samewerking met iSchoolAfrica, benoem is.

“Vroeë kinderontwikkeling is tans ’n fokuspunt in die onderwys in ons land,” verduidelik hy. “Die regering se navorsing en assessering het bewys ’n kind wat in gr. R was, vaar baie beter in gr. 1 as ’n kind wat by die huis was, en dit is hoekom die regering so gefokus daarop is.”

Die SuperMa Elmarie Riaan sê op ons Facebook-blad sy het haar seun uit gr. R gehaal en het ho, by die huis begin onderrig. “Ek dink nie kinders is almal dieselfde nie en hulle gaan in hul eie tyd ontwikkel. Daar is nog 12 jaar se skool wat voorlê; kinders van ses jaar oud moet ’n bietjie speeltyd ook kry.”

Maar Leigh dring daarop aan dat bywoning van gr. R nou so belangrik geword het dat die regering dit nou oorweeg om nog ’n voorskoolse graad, gr. RR, in te faseer. “Kinders is gewoonlik vyf en word ses in gr. R. ’n Kind se brein ontwikkel optimaal tot die ouderdom van ses - dit is wanneer hulle die maklikste leer. Dit is dus ’n wonderlike ding; jy sal inderdaad sien in Europese lande gaan kinders al van vierjarige ouderdom skool, wat dalk volgende vir ons onderwysstelsel is,” sê Leigh.

Maar ma’s soos Dina Dadswell sê hul kinders vaar heel goed sonder dat hulle gr. R bygewoon het. En baie ma’s in ons Facebook-gemeenskap stem saam. Hulle meen ander skoolfooie plaas reeds aansienlike druk op hul finansies, dus is gr. R ’n uitgawe wat hulle eenvoudig nie kan bekostig nie.

Volgens Leigh kan ouers aansoek doen om regeringsubsidies, maar dit is net beskikbaar van gr. 1 en sluit nie gr. R in nie, want dit is nog nie verpligtend nie. Maar hy voeg by enige regeringskool gaan gr. R het en sulke skole word gesubsidieer, wat beteken ouers hoef nie handboeke te koop nie; kinders kry dit by die skool.

“In die lang termyn is dit die moeite werd om hierdie jaar in jou kind te belê. Dit gaan hul selfvertroue bou voor die groot dag in gr. 1 en dit beteken hulle gaan beter voorberei wees as ’n kind wat by die huis was,” sê Leigh.

En party van ons SuperMa’s soos, Illse Hector, stem saam: “Gr. R is baie belangrik. Dit berei jou kind vir gr. 1 voor in die lang termyn gaan jy besef jou kind vaar beter. Gr. R was ’n redding vir my twee kinders omdat dit hulle vir skool voorberei het.”

- Dalena Theron

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.