Haar lewelose liggaam is Donderdag gevind nadat sy in die vroeë oggendure van haar bure se terras afgespring het, berig India Today.

Die gr. 7-leerder aan die Senthil Nagar-skool in die woongebied van Senthil Nagar in die dorp Palayamkottai in die suide van Indië is in die verleentheid gestel nadat haar menstruele bloed deur haar skooluniform gelek en haar klere en sitplek bevlek het. 

Verleë het sy haar onderwyseres toestemming gevra om toilet toe te gaan. 

Die onderwyseres het voor die hele klas op haar geskree dat sy nie haar sanitêre doekie behoorlik ingesit het nie. 

As gevolg daarvan het die jong meisie om drieuur die volgende oggend van die bure se balkon af gespring. 

Haar ouers sê hulle het geen idee gehad waarom hul dogter haar eie lewe sou neem nie, tot hulle die briefie gelees het wat sy agtergelaat het. Daarin het sy beskryf hoe haar onderwyseres haar “verneder” het.

“Ek weet nie wat om te sê nie,” staan glo in die briefie. “Tot nou toe het julle geen klagte oor my gehoor nie, maar waarom het die onderwyseres so oor my gekla?”

Volgens The Guardian berig die Indiese media haar ma sê die onderwyseres het haar ontstelde dogter die vlek vir die klas laat wys.

“Die onderwyseres het nie eens in ag geneem dat daar seuns in die klas was nie,” word die verslae ma aangehaal. “Sy het my dogter gevra om die bokant van haar salwar kameez (’n tuniek wat oor ’n langbroek gedra word) op te lig en het haar ’n stofdoek gegee om as ’n doekie te gebruik.”

Nuus oor die voorval het protesaksie ontlok onder ouers en leerders wat kwaad is oor die betrokke onderwyseres se gedrag. Die polisie moes ingryp. 

Die onderwyseres is aangekla van bystand met selfdood by die privaat skool, berig NDTV, al is niemand nog in hegtenis geneem nie. 

“Ons hoor nou verskillende weergawes en sal eers duidelikheid hê wanneer die ondersoek afgehandel is,” het ’n senior polisiewoordvoerder in ’n verklaring gesê.

Bronne: The Guardian, Metro UK, NDTV, India Today