Kyle Grace (12) het na bewering toegang verkry tot ’n trap agter die verhoog in die skoolsaal wat na die plafon lei.

Die plafon het toe onder die seun meegegee en hy het sowat 8 m na die grond geval. Die voorval het omstreeks 14:30 gebeur.

Daar heers nog onsekerheid oor wat Kyle in die plafon gaan soek of doen het.

Die ongeluk is vir almal baie traumaties, sê Jessica Shelver, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement. “Toe ons oor die voorval ingelig is, het ’n hele span van ons distrikskantoor na die skool gegaan, so ook maatskaplike werkers en sielkundiges.

“Vier maatskaplike werkers van ’n aangrensende skool het by die twee distrikswerkers van die department aangesluit om die nodige ondersteuning aan alle leerders te verskaf,” sê Shelver.

Kyle se dood is ’n tragiese verlies van ’n jong lewe, sê sy. “Die distrik sal Vrydag verdere ondersteuning aan die skool verskaf. Ons innige meegevoel aan Kyle se familie in dié baie moeilike tyd.”

Medelye vir Kyle se familie en vriende het van oral ingestroom.

“ ’n Geregtelike doodsondersoek is geopen,” bevestig sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder. Volgens inligting het die 12-jarige seun geval en aan sy wonde beswyk. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek.”