’n Gr. 1-leerder van KwaZulu-Natal het ’n meer angstige eerste skooldag as die meeste beleef toe ’n bysteek hom amper bokveld toe stuur.

[caption id="attachment_154081" align="alignnone" width="601"]Tristan Ricky Enslin. Foto: Verskaf Tristan Ricky Enslin. Foto: Verskaf[/caption]

Tristan Ricky Enslin se eerste skooldag aan die Pongola Akademie het soos ’n fees begin.

“Ná skool kon hy skaars uitgepraat raak oor sy oulike juffrou wat glad nie kwaai is nie,” sê Rosanne Goosen, Tristan se tannie in ’n e-pos aan Huisgenoot.

Net twee uur later het sy ma ’n dringende oproep van die naskool-onderwyser gekry: ’n By het Tristan op sy groottoon gesteek.

“Hy was so opgeswel dat hy nie eens deur sy oë kon sien nie; hy kon glad nie asem nie kry. Hulle het met hom dokter toe gejaag en die dokter het hom dadelik hospitaal toe gestuur,” vertel Rosanne.

Drie inspuitings, ’n drup en omtrent vyf uur later is die klein mannetjie eindelik ontslaan.

“Daar moet nou reëlings getref word vir ’n EpiPen (wat ’n dosis adrenalien bevat om ’n allergielyer se lewe te red). Die koste daarvan én die feit dat hulle nie ’n mediese fonds het nie, maak dit moeilik.

Ons sal ’n plan moet maak en hy moet dit byderhand hou, want hy is hoogs allergies en die dokter sê ná elke bysteek kan dit erger raak.

“Maar ons dank die Liewe Heer dat Hy sy Hand van beskerming oor hom gehou het.”

[caption id="attachment_154083" align="alignnone" width="601"]Tristan tydens sy eerste skooldag by Laerskool Pongola Akademie. Foto: Verskaf Tristan tydens sy eerste skooldag aan die Pongola Akademie. Foto: Verskaf[/caption]