Chanelle Henning's Parents ;Chanelle Henning

Gouws, wat vroeër vanjaar skuldig bevind is aan die kleuterskoolonderwyseres Chanélle Henning se moord, het vandag in die Hooggeregshof in Pretoria dié bekentenis gedoen. Hy is saam met die Nigeriese Olimpiese atleet Ambrose Monye skuldig bevind aan haar moord. Drie ander mans is voorheen skuldig bevind en gevonnis.

Nico het Gouws glo ook gevra om sy vervreemde vrou, Chanélle, in ’n slegte lig te stel. Die motief vir die moord was sodat Nico glo volle toesig oor hul kind kon kry. Gouws het ook erken dat Nico hom gevra het om Chanélle dop te hou en seker te maak dat sy nie dwelms gebruik nie.

“Nico Henning, haar man, het my opdrag gegee om haar te vermoor,” het Gouws volgens News24 in trane in die getuiebank gesê. Nico het hom glo R1 miljoen aangebied vir die huurmoord op sy vrou.

Nico Henning wou verlede week nie kommentaar op bewerings lewer dat hy by sy vermoorde vrou se dood betrek word nie. Sy prokureur het aan Huisgenoot gesê dit is onvanpas om nou vrae aan sy kliënt te stel.

Nico was glo ook nie by sy huis of sakepersele toe die dagblaaie hom probeer opspoor nie.

Volgens Gouws het Nico hom ook vroeër gevra om sy broer te vermoor ná ’n woordewisseling tussen die broers.

Gouws het ná sy skuldigbevinding aan die moord besluit om saam met ondersoekbeamptes te werk.

Chanélle Henning is vroeg een oggend in November 2011 voor haar seun se kleuterskool doodgeskiet nadat sy hom daar afgelaai het.

Chanélle se ouers, Sharon en Ivan Saincic, is in ’n plek van veiligheid. Sharon het vroeër aan Huisgenoot gesê sy is keelvol dat daar gedurig bewerings opduik dat haar dogter dwelms gebruik het. “Dis nonsens. Dis alles ’n rookskerm om die ware rede vir haar moord te verbloem.”

Danél Blaauw