Witwarm vrytonele en ’n gekafoefel in ’n nuwe Afrikaanse-sepie. Kan dit wees?

Jy gaan behoorlik snak (of hyg) na jou asem as jy kyk na die promosievideo van Tot Tyd en Wyl, ’n nuwe sepie wat blykbaar in Januarie op kykNET begin.

Dit is dan heeltemal in teenstelling met hoe ons gewoonlik die ernstige Sink-aktrise, Anel Alexander, die kabaretsangeres en aktrise Elzabé Zietsman en Ramey Short van Binnelanders-faam op die kassie sien.

As jy so na die video, kompleet met stomende vrytonele tussen Anel en Ramey se karakters kyk, lyk dit skoon soos iets uit jou stoute tannie se goed versteekte hygroman.

Tot Tyd en Wyl word beskryf as die saga van die uiteenlopende en skatryk familie van die landgoed Groot Pardenfleur, waar die matriarg Marjorie (Elzabé Zietsman) die septer swaai.

Haar vurige rooikop dogter, Diaan (Anel Alexander), versamel die katelknapies soos stoet hingse. Diaan se geheimsinnige dogter is getroud met die smeulende Adam (Ramey Short), wat beslis 'n dwalende oog het en 'n los broek dra.

Ja, lyk vir ons of Fifty Shades of Grey maar gaan moet terugstaan vir Tot Tyd en Wyl!