Daar sit en stry hulle toe wraggies. En dit nadat hulle saam wyn geproe en op ’n rivierbootrit gegaan het.

’n Mens kon die ongemak sommer so deur die televisieskerm aanvoel.

Donderdagaand se episode van die kykNET-reeks Boer Soek ’n Vrou het behoorlik die tonge in die sosiale media laat klap. Want die bootuitstappie van Johannes, boer van Robertson in die Wes-Kaap, saam met die twee vroue, het in ’n onderonsie geëindig.

Die video van dié stryery, wat op Boer Soek ’n Vrou se Facebook-blad gepubliseer is, was teen Vrydagoggend, meer as 100 keer gedeel en meer as 1 000 mense het daarop kommentaar gelewer.

“Ek kry hom jammer; ek dink hy sukkel soms om homself lekker uit te druk, maar hy bedoel goed. Die meisies was onredelik en daai donkerkop is ’n mislike entjie mens. Laat albei hul tassies pak!” het Louise Barnard op Huisgenoot se Facebook-blad haar mening gelug.

Huisgenoot-lesers kon behoorlik nie uitgepraat raak oor wat in vanaand se episode tussen Johannes en die vroue gebeur het nie.

Johannes, wat Marga en Danielle plaas toe genooi het, het gehoop om dié twee vroue op die bootrit beter te leer ken. Maar toe voel hy dit was hý wat moes aanhou praat.

“Ek moes die meeste van die praatwerk op die boot doen,” het Johannes gesê. “Ja, maar ek is siek so ek luister net,” het die donkerkop Danielle geantwoord.

Oomblikke daarna net Marga van haar laat hoor: “Maar jy het dan gesê ek praat te veel.”

En toe is die vet in die vuur. Kyk hier hoe dit afgespeel het:

Sommige kykers meen die boer moet albei vroue summier pos.

“Johannes moet baie beslis albei die dames huis toe stuur . . . Hulle mors sy tyd,” skryf Jessica Naicker op Boer Soek ’n Vrou se Facebook-blad.

Ander kykers het weer lekker gelag vir dié ongemaklikheid.

Maar daar was ook kykers wat glad nie vir Johannes jammer voel nie.

Veral nie nadat een van die vroue wat vir Johannes geskryf het, in ’n vorige episode besluit het om sy uitnodiging plaas toe van die hand te wys nie.

Gaan Marga en Danielle bly of besluit om eerder hul ry te kry? Ons sal maar net moet wag en kyk . . .

Kyk Boer Soek ’n Vrou Donderdae 20:30 op kykNET.