Ondergrondse werksaamhede het waarskynlik daartoe gelei dat ’n vyfbaanpad in Fukuoka, Japan, op 8 November 2016 soos mis voor die son verdwyn het. En toe is daar net ’n groot sinkgat van bykans 15 m diep, sowat 27 m wyd en amper 30 m lank. So is die pad op daardie dag deur die gulsige sinkgat verorber.

Maar sou jy jou vandag in daardie stad bevind op soek na die reuse-sinkgat, gaan jou soektog vergeefs wees. Want in Japan word daar nie onnodig tyd verspil nie. Trouens, daardie einste sinkgat is sommer binne twee dae reggemaak.

Dit was binne 48 uur veilig verklaar vir voetgangers om die pad te gebruik, maar motoriste moes langer wag vir al die veiligheidstoetse om afgehandel te word.

Die hele restorasieproses het net 'n week in beslag geneem waartydens onder meer verkeersligte en rioolpype vervang of herstel is nadat die sinkgat dit “ingesluk” het.

In hierdie video kan ’n mens sien hoe die verkeersligte en lamppale in die sinkgat verdwyn.

Fukuoka se burgemeester, Soichiro Takashima, het boonop laat weet dié gedeelte van die vyfbaanpad is nou 30 keer sterker as vantevore. Ons sal so hoop, ja!

Bronne: theguardian.com, reddit.com, boredpanda.com