Kyle moes op 14 Februarie ’n lewensgevaarlike operasie ondergaan nadat hy sowat ses maande gelede toevalle, wat byna soos dié van epilepsie is, begin kry het.

Ná baie toetse is Rasmussen's Encephalitis by hom gediagnoseer.

“Die toetse het getoon dat die hele linkerkant van die brein aangetas is deur hierdie uiters seldsame maar redelik aggressiewe siekte,” sê Annatjie Bouwer, wat as gesinswoordvoerder optree.

“Kenmerkend van hierdie siekte is dat die immuunstelsel net een helfte van die brein aanval, maar die oorsaak daarvan is onbekend. Iets dien as as 'sneller' vir die immuunstelsel, maar medici weet nie wat dit is nie.”

Kyle was ’n gesonde 10-jarige en daar was geen teken dat iets fout was nie; dus was die eerste toeval baie onverwags.

“Die toevalle was so een of twee keer per week. Hul gesin was selfs nog in Desember weg met vakansie vir Kersfees. Kyle kon toe nog fietsry, swem, trampolien spring en dans. Die toevalle het geleidelik meer geword en ook hewiger. Dit was naderhand twee of drie per dag,” vertel Annatjie.

Kyle se ouers, Juanita en Marc, kon skaars slaap.

“Hulle moes Kyle elke keer help tydens ’n toeval sodat hy nie seerkry nie. Hy het later ook asemnood ontwikkel tydens die toevalle.

"Die toevalle was naderhand enigiets van een en ’n half uur tot selfs vyf minute uit mekaar. Teen einde Januarie was Kyle se spraak reeds in so ’n mate aangetas dat dit moeilik was om hom te verstaan, hy het begin hakkel en kon nie meer lees nie. Hulle is toe verwys na spesialiste in Kaapstad en die moontlikheid van 'n breinoperasie is genoem.”

Volgens Annatjie het hulle gedink ’n breinoperasie is al uitweg. Maar Kyle se toevalle het vererger. Soms was die toevalle twee minute of selfs enkele sekondes uit mekaar. Een van sy aanvalle het drie en ’n half uur geduur.

Daarna is ’n noodoperasie geskeduleer om die linkerlob van Kyle se brein te verwyder.

“Valentynsdag gaan vir ons nooit weer dieselfde wees nie,” vertel Annatjie.

Die operasie het 12 uur geduur.

“Die dokters het elke drie tot vier uur per SMS laat weet dat hulle goed vorder en tevrede is. Daar was geen komplikasies nie en die dokters was tevrede met die uitkoms. Die dokters was eintlik verbaas oor hoe goed Kyle die operasie hanteer en gevorder het,” sê Annatjie.

Marc en Juanita sal hopelik Saterdag met Kyle kan terugvlieg na Johannesburg en dan die pad na Ermelo aandurf.

“Daar lê ’n lang pad van rehabilitasie voor. Dit beteken dat hoewel die regterkant van sy lyfie nou verlam is, hy weer sal kan leer loop en sy arm gebruik. Die tyd sal leer of hy weer sy vingers sal kan gebruik.

"Hy sal weer kan leer praat ook. In hierdie stadium kommunikeer hy met handgebare, kopknikke en deur te wys na prentjies. Die kamer is nogal stil van sy geselsies. Sy sigveld is ook beïnvloed omdat die een helfte van elke oog nie kan sien nie.”

Annatjie sê dokters meen Kyle se regterbrein sal later die werking van die linkerbrein begin oorneem.

“Op die oomblik is hy heeltemal bewus van wat om hom aangaan en hy kan kommunikeer, lag en TV kyk."

[caption id="attachment_161564" align="aligncenter" width="600"]Foto verskaf. Foto verskaf.[/caption]

Volgens Annatjie staan Juanita en Marc sterk deur dit alles, selfs al raak hulle soms moedeloos. Hulle is ook bekommerd oor die geldelike gevolge, maar ondersteuningsgroepe help met geldinsamelingsprojekte.

Boweal is hulle dankbaar dat hulle hul lieflingkind terughet, sonder toevalle, sê Annatjie.

“Die Here se genade en wonderwerke was reeds so groot in hierdie klein seuntjie dat ons net hoop het vir die toekoms.”