Dit volg nadat AIG Theuns vroeg in Oktober verlede jaar ingelig het dat hy nie meer aan die konsert mag deelneem nie. Theuns het hom na die hof gewend, maar het intussen die strydbyl met die Coleske-broers begrawe.

AIG het op Facebook gesê dat hulle tot groot tevredenheid sy kontrakooreenkoms gefinaliseer het.

“Ons beplan groot dinge vir AIG vanjaar en ons is baie opgewonde oor Theuns se terugkeer. As een van Suid-Afrika se top Afrikaanse kunstenaars van alle tye het hy nog altyd groot waarde en aanhang tot AIG gevoeg.

“Ons sien saam met musiekaanhangers uit daarna dat Theuns weer ’n belangrike element van die vertoning gaan uitmaak,” se Arnold Coleske van Coleske Artists.

“AIG bly ’n groot hoogtepunt op die jaarlikse musiekkalender en ek het nog elke konsert wat ek daar beleef het saam met die duisende konsertgangers baie geniet. Dit is belangrik vir Afrikaanse musiek en die wense van ons ondersteuners dat ons kragte saamsnoer. Ek sien uit na 2017 se konserte. Sien julle daar!” se Theuns op sy beurt.

Die sanger het hom vroeër tot die hof gewend in ’n poging om AIG te dwing om hom steeds deel van die vertoning te maak. Hulle het hom aanvanklik by die konsertreeks uitgesluit omdat hy nie sy kontrak betyds geteken het nie.

Inligting rakende die konserte en datum van kaartjie verkope vir Afrikaans is Groot 2017 word binnekort bekend gemaak.