Dis min dat ’n week met goeie nuus afskop, maar vandag is daar darem een brokkie nuus waaroor die samelewing verheug kan wees; pandabere is amptelik nie meer ’n bedreigde spesie nie.

Die reusepanda se status op die lys bedreigde spesies – wat as die Rooilys bekendstaan – is aangepas van “bedreig” na “weerloos”, het die Internasionale Natuurbewaaringsunie Sondag gesê.
“Die spesie se getalle het gegroei danksy doeltreffende woudbeskerming en moeite wat gedoen is om woude te help groei. Dié verbetering wys die Chinese regering se pogings om die spesie te help beskerm is doeltreffend,” het die unie in ’n verklaring gesê. Pandagetalle het die laaste dekade stewig gestyg en het in 2014 – toe die mees onlangse sensus voltooi is – op 17 persent meer as die vorige dekade gestaan. Tog is kenners bekommerd dat klimaatsveranderinge al die harde werk ongedaan kan maak. “Na verwagting gaan dit meer as 35 persent van die pandas se bamboeshabitat binne die volgende jaar uitwis en sal die pandabevolking weer afneem en die groei wat ons die laaste twintig jaar gesien het teenwerk,” het die unie bygevoeg.

Vir nou is die wêreld en veral omgewingsbewaarders egter eers baie opgewonde oor die reuse vooruitgang en het veral die Wêreldnatuurfonds hul opwinding daaroor uitgespreek.

“Die laaste vygtig jaar al is die reuse panda die planeet se mees geliefde bewaringsikoon. OM te weet die panda is nou een tree verder van uitsterf, is ’n opwindinde oomblik vir almal van ons wat toegewyd werk om die wêreld se natuurskoon en hul omgewings te beskerm,” het die fonds in ’n verklaring gesê.