Stian Bam, gewilde ster van televisiereekse soos Die Boland Moorde, Vallei van Sluiers en binnekort die rolprent Modder en Bloed, het Sondag vir die tweede keer pa geword.

[caption id="attachment_117089" align="alignnone" width="600"]Stian saam sy vrou, Truda. Foto: Jacques Stander Stian saam sy vrou, Truda. Foto: Jacques Stander[/caption]

Stian vertel trots dat dit “baie goed” gaan met sy vrou, Truda, ná die geboorte van Sofia, hul eerste dogtertjie.

Sofia se ouboet Jannes (3) was glo baie besorg oor sy ma en sussie, vertel Stian. “Hy het hulle die heeltyd gesoek. Hy’s eintlik ’n rowwe lat, maar dit lyk my sy sussie het hom ’n lammetjie gemaak. Dis net suutjies praat en sag vat as hy om haar en sy ma is.”

By geboorte was Jannes sowat twee weke vroeg, en nes haar ouboet het Sofia ook nie meer op haar laat wag nie.

“Ek weet nie hoekom ons sulke ongeduldige kinders het nie. 36 weke was klaarblyklik genoeg vir haar,” spot Stian. “Ek vermoed sy wou dalk kyk hoe lyk die ondeunde broer wat so raas buite haar ma se maag!”

En waar kom die skattige naam Sofia vandaan? “Wel, dit was Jannes wat eendag gesê het sy sussie se naam is Sofia. Wie was ons om te stry?” lag Stian.

Stian sê hy wens hy kan nou ’n blaaskans neem van werkverpligtinge om vir Truda by te staan, “maar gelukkig is die meeste van my werk rondom Stellenbosch waar ons woon. Ons het ook ’n groot vangnet in oumas en vriende wat graag ’n handjie bysit.”

Binnekort is Stian te sien in die nuwe Afrikaanse dramaprent Modder en Bloed wat vanaf April in fliekteaters landwyd wys. Ons het onlangs met hom oor sy rol daarin gesels.

– Petrus Malherbe

Ander stories op Huisgenoot.com

Kyk: Pappa Derick Hougaard deel die oulikste foto’s van hom en sy seuns

Man skryf ope brief aan ander mans in die versoeking om te kul: ‘Moenie soos ek met spyt saamleef nie’

Ma vertel roerend: ‘My kind sal eendag normaal loop’

Pa deel foto van babadogter se toon om te waarsku teen gevaarlike toestand