Die seun wat deur sy ma uit sy brandende kamer gered is, is nou albei uit die hospitaal ontslaan. 

"Hy sou eers môre huistoe gekom het, maar die dokter is so tevrede met Wynand se vordering. Boeta kom huistoe. Ek kan al die Melomed-hospitaal se logo sien,” jubel Lelani Vermaak, oppad in die motor om haar seun te gaan haal.  

Wynandt het in die brand vroeg Vrydagoggend op 7 Julie brandwonde oor 60 persent van sy lyf opgedoen toe hul huurhuis in Boston, Bellville, op ’n tot nou toe nog onverklaarbare wyse aan die brand geslaan het.

Lelani Vermaak, wat Wynandt en sy sussie, McKenzie (5), uit die vlamme gered het, was Sondag by hom. Hulle kon toe vir die eerste keer praat nadat hy uit ’n geïnduseerde koma gebring is, onder meer weens die pyn van sy beserings.

Tydens die reddingspoging het die vel op Lelani se hande en voete kwaai gebrand.

“Nou begin ma se harde werk,” vertel Lelani. Sy moet elke uur sy vel bevogtig met spesiale room. Donderdag word die verbande aan haar regtervoet, wat baie probleme gee, verander.

“My voet trek styf, daarom moet ek die spiere begin oefen,” verduidelik Lelani. 

Anneri du Plooy, direkteur van die Hero Burn Foundation, ’n nie-winsgewende organisasie wat ondersteuning bied en omsien na brandslagoffers en hul gesinne, het laat weet sy gaan per e-pos aan hulle raad gee oor onder andere oefening om te sorg dat die vel nie styf trek nie.

Dis hoe Lelani Vermaak se verbrande voet nou lyk. Foto: Facebook

Hulle bly nog in ’n gastehuis in Bellville met ’n kamer vir Wyandt, maar sal 1 September intrek in hul nuwe huurhuis daar naby. "Ons sien baie uit," sê Lelani.

"Vir nou wil ons gesond en sterk raak."