Johannesburg – Die Nasionale Vervolgingsgesag het besluit om Carl Pistorius nie te vervolg vir roekelose en natalige bestuur ná die botsing van voor verlede Augustus tussen sy motor en iemand anders s’n nie.

Luidens ’n twiet deur eNCA se regsverslaggewer, Karyn Maughan, het die direkteur van openbare vervolging bevind dat die ander bestuurder in die ongeluk vir roekelose bestuur vervolg moet word.

Carl, die paralimpiese atleet Oscar Pistorius se broer, moes met behulp van hidrouliese reddingsgereedskap uit sy motorwrak bevry word. Sapa het destyds berig dat twee passassiers in sy voertuig nie beseer is nie. Carl het veelvuldige beserings opgedoen.

Carl is in Mei 2013 onskuldig bevind aan strafbare manslag en roekelose bestuur nadat sy motor en ’n vrou se motorfiets in 2008 gebots het. Die vrou is ’n paar dae later in die hospitaal oorlede.

- Nuus24