Moontlik beter oeste danksy goeie reën was een ligpunt wat ekonome begin vanjaar aan Huisgenoot uitgesonder het.

A post shared by SyngentaSA (@syngentasa) on

En dit begin inderdaad lyk asof SA verbruikers hulle darem nie nog ook - benewens die politiek, ekonomie en werksekerheid - te veel oor kospryse sal hoef te kwel nie.

Volgens die nasionale oesskattingskomitee se vroeë produksieramings kan Suid-Afrika ’n baie goeie of selfs rekord-mielieoes verwag. Boonop lyk die prentjie ook veel rooskleuriger vir ander grane, asook bone en sade. Vir die deursnee-gesin kan dit regstreekse en onregstreekse verligting bring. Sulke basiese produkte het immers ’n rimpeleffek op ander kosbedrywe en eindelik selfs die breër ekonomie.

Die komitee beraam SA se algehele mielieproduksie kan 13,92 miljoen t beloop, byna 80 persent meer as in die dorre vorige seisoen, toe honderdduisende ton mielies teen ’n koste van biljoene rande ingevoer moes word. Dit sal byvoorbeeld ook uitstekend vergelyk met ons grootste mielieoes tot dusver: sowat 14,9 miljoen t in die 1980/'81-somer.

Koring- en sojaboon-produksie kan boonop onderskeidelik sowat ’n derde en 44 persent hoër wees as die afgelope seisoen. Minstens ’n kwart minder koring as in die vorige seisoen sal waarskynlik ingevoer hoef te word. Produksie van sonneblomsaad kan intussen ook op ’n seisoengrondslag met 23 persent toeneem.

Dis ’n baie "bemoedigende prentjie", meen Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousakekamer Agbiz. Maar ’n mens moet in ag neem dis die eerste beramings vir die seisoen, "en ons sal ’n baie duideliker prentjie in die komende maande kry".

Nietemin dink hy gesaaides landwyd lyk meestal goed.

Die hoof van AgriSA, Omri van Zyl, het onlangs voorspel die mielieoes gaan veel beter lyk as verlede jaar. Kospryse sal waarskynlik vanjaar daal nadat die voedelinflasiekoers die afgelope Desember amper 12 persent bereik het, veel hoër as die algemene verbruikersinflasiekoers, aldus die nasionale landboubemarkingsraad.

A post shared by Agri SA (@agrisaofficial) on

Dit gaan uiteraard nie net oor goedkoper ontbytpap op die tafel nie:

  • Mielies en van die ander somergewasse wat nou so belowend lyk, word natuurlik ook as veevoer gebruik. Veeboere en pluimveeboere sal dus voordeel trek en dit kan tot laer vleispryse bydra. Dit sal wel waarskynlik eers mettertyd gebeur, want aanbod is tans nog laag vergeleke met aanvraag en boere moet eers weer hul uitgedunde kuddes ná die droogte opbou.
  • Dit kan ook groot kosverwerkingsmaatskappye, soos Pioneer Foods en Tiger Brands, se produksiekoste help verlaag.
  • Moontlike onregstreekse voordele sluit in dat laer kospryse en -inflasie die Reserwebank toeskietliker kan maak wat rentekoerse betref.
  • En jou ontbyt- of braaipap sal waarskynlik mettertyd wel heelwat minder kos. Weens die droogte het die prys van mieliemeel immers in die jaar tot Julie 2016 met meer as 40 persent gestyg.

Ekstra bronne: agbiz.co.za, agrisa.co.za, proagri.co.za, EWN