laurika-2

Die geliefde sanger se nuutste album, Wals, wals Willemien, verskyn eindelik later vandeesmaand.

Sy werk al sedert verlede Augustus aan die nuwe album en sê sy is nou tevrede dat dit behoorlik afgerond en gereed vir die winkelrakke is.

“Omdat ek nie self my liedjies skryf nie, duur dit nogal ’n ruk om die regte liedjies in die hande te kry. Ek voel dit het 14 baie sterk snitte op. Dit was die moeite werd om te wag tot ek die regte kombinasie bymekaargemaak het,” vertel Laurika.

Wals, wals Willemien is nie net die titel van die album nie, maar ook een van die snitte.

“ ’n Paar van my ander albums het ook name in – My ou tante Koba; Hei, mevrou Brown (dit gaan goed) en Stuur Groete aan Mannetjies Roux – so daar is kontinuïteit,” verduidelik die donkerkop wat in 1979 haar heel eerste album, Debuut, vrygestel het. Sy het intussen nog 21 albums opgelewer.

Die liedjie, Bly nog so ’n bietjie, wat sy by verlede jaar se Huisgenoot Skouspel gesing het, is op die nuwe album, asook duette met Elvis Blue en Joe Niemand.

“Vir my sal dit die grootste kompliment wees as ek hoor dat mense na my musiek in hul motor luister, want dis waar ek na goedvoel-musiek luister.

- Alet van Zyl