Die regering en die Nasionale Olimpiese Komitee moet die bod nog goedkeur, maar dit word bloot as ’n formaliteit beskou. Die bodproses open in Mei. Ierland het reeds in Desember aangekondig hy beoog om ’n bod in te dien.

Jurie Roux, uitvoerende hoof van Saru, het in ’n verklaring gesê: “Ons gaan definitief ’n bod indien om in 2023 die Wêreldbekertoernooi aan te bied, net soos ons dit met die laaste drie gedoen het.

Teen daardie tyd sal dit 28 jaar wees sedert oudpres. Nelson Mandela die trofee aan Francois Pienaar oorhandig het. Ek glo die land hunker daarna om weer die grootste gebeurtenis in die rugbywêreld aan te bied.

“Die Rugbywêreldbekertoernooi van 1995 en die Fifa-Sokkerwêreldbekertoernooi van 2010 was luisterryke gebeurtenisse vir ons nasie en vir die onderskeie sportsoorte, dus is die vooruitsig om daardie onvergeetlike gebeurtenisse te herhaal, baie opwindend.”

Die wen-bod sal in Mei 2017 aangekondig word.