Die agtjarige seun van Krugersdorp wat op die N12-hoofweg deur ’n baksteen teen die kop getref is, het meer as ’n maand later weer begin praat berig Netwerk24.

Bakstene het Caden Slabbert op 30?April naby The Glen-winkelsentrum getref en hy sterk tans in die Netcare-rehabilitasiehospitaal in Auckland Park, Johannesburg, aan.

“Jy is my held,” het Caden Donderdag aan sy pa, Justin Slabbert, gesê. Die kind se spraak is erg aangetas weens die breinskade wat hy opgedoen het, maar dit verbeter daagliks, het sy pa aan Beeld gesê. Caden is twee weke gelede in die rehabilitasiehospitaal opgeneem en het intussen weer begin loop.

'Dit is nie lekker om jou kind ná so ’n traumatiese voorval te sien nie.'

“Caden is ’n wonderwerk. Weens die aard van sy kopbeserings het ons nie verwag dat hy nou sal begin praat nie. Hy is werklik my held, ’n regte klein vegtertjie. Dit is nie lekker om jou kind ná so ’n traumatiese voorval te sien nie. Maar ek glo hy gaan ten volle herstel.”

Caden was aanvanklik in ’n geïnduseerde koma omdat ’n deel van sy skedel verwyder moes word om die drukking op sy brein te verlig.

Dokters monitor nog sy breinbeserings en sal dit volgens sy pa eers oor vier weke oorweeg om sy seun se skedel te herbou.

Volgens hom weet Caden hy het seergekry, maar hy kan nie die besonderhede van die voorval onthou nie.

Bronne: Netwerk24, News24