’n Walvis wat in dryfboeie en vistou verstrengel geraak het, is Sondag suksesvol bevry, sê die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI).

In ’n verklaring sê Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, die bemanning van ’n plaaslike vissersboot het die Suid-Afrikaanse Walvis-bevrydingsnetwerk (SAWDN) Saterdag van die voorval ingelig.

Mike Meyer, hoof van die SAWDN, sê ’n jong boggelrugwalvis van 8,5 m lank was op die seebodem in toue en dryfboeie vasgevang. Dit het gelyk of die dier aan ’n tou vas is wat aan kreefnette geanker is, sê hy.

Craig sê minstens vyf toue was om die walvis se stertvinne en stert gedraai.

“Die tou was gedraai en geknoop en al het die walvis beperkte beweging gehad, het hy die SAWDN se pogings bly ontwyk om die tou te sny deur na onder te duik.”

Craig sê die reddingspoging het Saterdag gevaarlik begin raak terwyl die walvis aanhou afduik het. Die poging is om 19:00 gestaak. Hy sê verder die dier is Sondag gekry waar dit die vorige dag gelaat is. Hy sê ’n groter vaartuig is ontbied om met die reddingspoging te help.

Volgens Craig het Gary Nel, ’n seekat-permithouer, aangebied om hul diepseevaartuig, die Albatross, van Kalkbaaihawe te stuur om met die reddingspoging te help.

“Toe hulle op die toneel is, kon die bemanning aan boord van die Albatross die lyne lig . . . en die walvis na die SAWDN-vrywilligers lei om die geligte lyne te sny.”

Craig sê die dier is bevry en het “sterk en gesond” gelyk.

Bron: News24