Drie van die vyf vakbonde het Vrydag ’n loon-ooreenkoms gesluit wat die landwye busstaking wat Woensdag ingeskop het, tot ’n einde bring. Die vakbonde het die 9 persent-verhoging aanvaar. Dié ooreenkoms sal vir ’n jaar in plek bly.

Senzo Mahlangu van Satawu het aan die media gesê “busse is besig om te beweeg”. Daar sal verdere gesprekke gevoer word oor onder meer skoftoelaes, werksure en basiese voorwaardes rondom aflos-bestuurders. Mildred Oliphant, minister van arbeid, het ook aangedui dat die nasionale ooreenkoms van 9 persent wat gesluit is, enige ander ooreenkomste vervang. Numsa het hul ontsteltenis rondom die ooreenkoms op Twitter gedeel.

Die vakbond het ook gesê dat hulle ’n werker-gedrewe vakbond is en dat hulle ’n mandaat van hul lede moet kry alvorens hulle die busstaking sal beëindig. Numsa en Taswu het die loon-ooreenkoms verwerp.

Vroeër vandag

Die beplande 48-uur lange landwye busstaking wat sedert Woensdag tot chaos en frustrasie veral vir pendelaars gelei het, het ook diegene wat graag die Paasnaweek met langafstandbusse na families wou reis, se planne gekortwiek.

Dit is nog onseker of van die ander busdienste wel reeds ’n ooreenkoms kon bereik. Maar tot dusver het die 48 uur na onbepaald aangeskuif . . .

Autopax, onder wie se beheer Translux en City to City is, het Vrydag bevestig dat daar wel ’n loon-ooreenkoms bereik is en dat die groep se busse vandag weer na die pad terugkeer.

Daar word wel probleme op verskeie roetes ervaar terwyl die busdiens besig is om geaktiveer te word.

Ranti Mahlabana, Autopax-woordvoerder, het gesê daar is laat Donderdagnag op ’n verhoging van 8,5 persent ooreengekom. Numsa en Satawu was deel van die onderhandelinge.

Lynbestuurders is in ’n proses om hul werknemers te kontak en in te lig dat hulle na hul werk kan terugkeer.

Werkers verbonde aan die padpassasierbus-sektor het Woensdag begin staak en het beter werktoestande en ’n loonverhoging van 12 persent geëis.

Autopax het glo eers Dinsdag van die beoogde staking te hore gekom. Die groep is nie ’n lid van enige van die werknemerverenigings wat by die Suid-Afrikaanse padpassasiers-bedingingsraad se onderhandelinge betrokke was nie.

Intussen het Phakamile Hlubi, Numsa-woordvoerder, glo gesê geen ooreenkomste is onderteken nie.

“Ons onderhandel deur die bedingingsraad en ons wil beklemtoon dit is Numsa-beleid dat slegs die generaal-sekretaris enige ooreenkomste namens die vakbond kan onderteken,” het sy gesê.

Volgens haar sal die vakbond Vrydag met die minister van arbeid, Mildred Oliphant, asook werknemers bymekaar kom om die dispuut te probeer oplos.

Bron: news24.com