Gister het ons berig oor die onstellende nuus van 7de Laan se geliefde Maria (Themsi Times) en ons oorstelp deur ons lesers se geweldige steun op beide ons webwerf en Facebook. So ook Themsi. Tom Raath het gaan uitvind hoe dit met haar gaan. En Themsi het 'n spesiale boodskap vir ons lesers gestuur.

Na haar ongeluk en noue ontkoming op die N1 op Woensdag, is 7de Laan se Themsi Times (Maria) nog in baie pyn.

“Die inspuitings wat ek gekry het is uitgewerk en nou’s dit veral seer in my ribbes en my heup,” vertel sy van die huis af. Sy was gelukkig nie vandag geskeduleer om op die 7de Laan-stel te wees nie. Sy kla ook van ’n geweldige kopseer en sy het yslike knoppe waar sy haar kop gestamp het.

“Ek het horings gekry!” lag sy, maar moet dit gou staak. “Oe, oe, oe, dis te seer om te lag.” Darem is daar pynpille vir haar gegee as dit te erg raak, sê sy by.

Oor al die besorgde navraag van lesers het sy dié te sê gehad: “Baie dankie vir almal se gedagtes, goeie wense en gebede. Julle maak my sterk... God is goed.”

Dankie Themsi, ons is so bly jy's op pad na herstel toe!

‘n Dag nadat haar motor in ‘n ongeluk op die N1 afgeskryf is, was Themsi Times, wat die rol van Maria in 7de Laan speel, terug op stel.

Themsi was Woensdag op pad huis toe, toe haar Audi se linkervoorband gebars het.

Sy het die motor op die skouer van die hoofweg tot stilstand gebring en haar seun gebel om haar te kom help. Kwalik 15 minute later, teen ongeveer 11:45, het ‘n vrou in ‘n BMW van agter teen haar stilstaande motor gebots.

ER24 moes haar uit die wrak bevry en sy is per helikopter na die Helen Joseph Hospitaal geneem waar X-strale van haar kop, nek, bors, rug en heupe geneem is.

Gelukkig is niks gebreek nie, maar haar heup is beseer en sy het erge kneusplekke aan haar arm, sy en heup opgedoen. As ‘n mens na die wrak van haar motor kyk, het sy voorwaar lig daarvan afgekom.

“God het my beskerm,” het sy stil gesê.

Mense en mediese personeel op die ongelukstoneel en by die hospitaal het dié gewilde akteur onmiddellik herken.

“Selfs terwyl ek op die draagbaar gelê het, het mense gesê “dis Maria van 7de Laan” en foto’s van my geneem –die verpleegsters by die hospitaal ook,” vertel sy onthuts.

Die 7de Laan-span was uiters dankbaar om Themsi in een stuk terug te kon verwelkom op stel.

Die ongelukstoneel. (Foto verskaf)