Apple-fanatici kan ontspan ná dae van koorsagtige bespiegeling.

Veral die iPhone 5C, ’n goedkoper weergawe van Apple se gesogte maar duur slimfoon, het die tegniese wêreld aan die gons.

iPhone 5C

“Met die fut van ’n iPhone 5 in ’n nuwe, koel kleurryke plastiese dop, sal tonne van die iPhone 5 verkoop,” voorspel The Telegraph se tegnologieblogger Mic Wright. “Die 5C sal die gewildste gekleurde item naas Breaking Bad se Blue Meth wees. En ewe verslawend.”

Die model kom in wit, pink, groen, blou en geel en het ’n retinaskerm van 4 duim, ’n A6-verwerker (nes die iPhone 5), ’n 8-megapieksel kamera aan die agterkant en nuwe FaceTime HD-kameras. Die foon sal waarskynlik teen £469 (R7 300) vir 16 GB en £549 (R8 600) vir 32 GB verkoop.

Die 5C se luukse maat, die 5S, word as ’n yslike sprong beskou vir Apple, wat gewoonlik ’n nuwe selfoonmodel onthul wat net plek-plek ’n paar veranderings en geringe nuwe eienskappe het. Maar hierdie nuwe model het groot veranderings, waarvan die vernaamste werkverrigting gelykstaande aan dié van ’n lessenaarrekenaar, ’n verbeterde kamera en skandeerder vir vingerafdrukke is.

iPhone 5S

Al die apparate het die nuwe iOS 7-werkverrigtingstelsel, wat ’n groot verandering aan die bekende Apple-voorkoms teweegbring. Tim Cook, die uitvoerende hoof, beskryf dit as “die grootste verandering aan Apple sedert die oorspronklike iPhone”.

iOS 7

Die iOS 7, wat volgens CNET beskik oor “plat ikone, helder kleure en deursigtige beelde”, sal op 18 September vir alle toestelle ouer as die iPhone 4, iPad 2, iPad Mini en iPod Touch beskikbaar wees.

- Kirstin Buick