’n Boekhoudster van Vanderbijlpark het in Mei in ’n brief aan Huisgenoot vertel van die stemmetjie wat haar drome kelder: die stemmetjie wat vir haar sê sy is nie goed genoeg om ooit te kan toneelspeel nie; wat sê sy het nie genoeg geld om haar eie onderneming te begin nie; en wat haar wou wysmaak sy het vir seker nie genoeg geld vir haar droomtroue nie.

[caption id="attachment_147346" align="alignnone" width="528"]Die bruidspaar Lizinda en Jaco Geyser. Foto: Verskaf Die bruidspaar Lizinda en Jaco Geyser. Foto: Verskaf[/caption]

Maar sewe maande nadat die 36-jarige Lizinda Geyser (née van Rooyen) dié brief geskryf het, het een van haar drome wél waar geword – danksy ’n Huisgenoot-leser se ope hand.

Ná ’n verhouding van 17 jaar is Lizinda Saterdag 19 November ten aanskoue van 45 gaste met haar sielsgenoot, Jaco (37), getroud.

Dít danksy Sharon Jansen van Vuuren en haar man, Manie, eienaars van die viersterhotel en konferensiesentrum Sha-Mani in Alberton.

Sharon vertel Manie het Lizinda se brief gelees (Stemmetjie wat drome kelder, Huisgenoot, 5 Mei 2016). “Hy het vir my vertel: ‘Hoor hier, daar is ’n vrou wat ’n brief aan Huisgenoot geskryf het en vertel hoe graag sy wil trou, maar sy het nie die geld nie.”

Lizinda vertel oor die brief sy het net eendag besluit om al haar drome neer te pen.

“Ek is ’n boekhouer en goed in wat ek doen,” het sy geskryf. “Dit is my droom om my eie onderneming te begin. Maar dan fluister daardie stemmetjie vir my: ‘Hoe gaan jy dit sonder finansies doen? Jy is in elk geval te dom om enigiets op jou eie te doen!’ Dan begin ek twyfel. Kan ’n mens se drome ooit waar word? Dit is my droom om eendag ’n rolletjie in ’n rolprent te vertolk, of dalk ’n sepie. Ek wil net voel ek is nie die niemand wat almal dink ek is nie. Maar dan fluister daardie stemmetjie weer: ‘Jy kan nie toneelspeel nie!’ ”

Sy het toe van haar droomtroue vertel en weer die stemmetjie wat maan sy sal dit nooit kan bekostig nie. Sy sluit dan die brief af met: “Dit is my droom dat een van my drome eendag dalk waar word. Maar ai, daardie stemmetjie!”

Sy vertel oor daardie dag: “Ek het net neergeskryf wat ek graag met my lewe wil doen, wat ek graag sal wil bereik. Dit was vir my hartseer én nice in die sin dat ek nou wel nie alles dadelik sal kan bereik nie, maar weet wat my drome is. Ek het nie beplan om dit aan Huisgenoot te stuur of gedink iets sal daarvan kom nie. Ek het net gedink dalk sal ander mense daarby aanklank vind.”

En Sharon en Manie het.

[caption id="attachment_147347" align="aligncenter" width="600"]Sharon Jansen van Vuuren en haar man, Manie, het besluit om vir die paartjie se troue te betaal. Foto: Verskaf Sharon Jansen van Vuuren en haar man, Manie, het besluit om vir die paartjie se troue te betaal. Foto: Verskaf[/caption]

“Manie het vir my gevra: ‘Kan ons haar help?’ Ek het gedink: Hoekom nie? Ons doen baie vir baie mense, maar ons het besluit ons sal haar graag wil help. Manie het Huisgenoot toe gekontak en gesê ons sal graag een van haar drome wil waar maak,” vertel Sharon.

Sy sê hulle het nie eens geweet waar Lizinda bly nie, maar gevoel dit was so bestem toe hulle hoor sy is skaars 30 minute se ry van hulle af.

Die egpaar het die grootste uitgawes – die lokaal, dekor, kos en uitnodigings – gedek.

“Lizinda het vertel sy hou van pers. Ek het toe vir haar ’n paar tafelopsies gedek en sy het die een gekies waarvan sy die meeste hou.” Lizinda vertel haar man het nie eens geweet van die brief nie en was heel oorbluf toe Sharon en Manie aanbied om te betaal.

“Toe hulle bel, was ons sommer albei in trane. Die eerste datum wat op ’n Saterdag val waaraan ek kon dink was 19 November, Jaco se verjaarsdag!”

Lizinda vertel haar en Jaco se dogters, Megan (11) en Kiara (6), was “buite hulself van opgewondenheid” toe hul pa en ma se troudag aanbreek. Maar die week voor die troue was nie sonder dramas nie, vertel Lizinda.

“Ag, alles het net verkeerd geloop. My rok was nog nie klaar nie en my kar het gebreek, ’n paar gaste het gekanselleer . . . Ek het gevoel dalk is (’n droomtroue) net nie bestem nie.” Maar ek en Jaco het net besluit dit maak nie saak wát daardie dag verkeerd loop nie, ons sal dit hanteer.”

Op die dag het alles seepglad verloop. Sy sê die saal, getooi in skakerings van pers en silwer, het haar verwagtings oortref en die mense kon nie uitgepraat raak oor die kos nie.

[post-slider]

“Dit het selfs eers begin reën net nadat ons klaar foto’s geneem het!” Sharon sê hulle is bly hulle kon dit vir die paartjie doen.

“Liewe Jesus gee dit (wat jy vir ander doen) vir ’n mens terug.”