Ds. Jacobus de Koning het Sondag ’n boodskap van hoop en vertroosting gebring aan vriende en familie tydens die gedenkdiens vir André (13) en Rachel (8), die twee kinders van dr. Danie Brink en sy vrou, Lise, wat in die Desembervakansie in ’n motorongeluk oorlede is.

[caption id="attachment_155298" align="alignnone" width="600"]Die roudiens vir Rachel en André Brink is Sondag gehou. Foto: Rowyn Lombard Die roudiens vir Rachel en André Brink is Sondag gehou. Foto: Rowyn Lombard[/caption]

Sowat 600 roubeklaers het by die Hatfield Christian Church in Pretoria saam met die Brink-gesin van hul oorlede kinders afskeid geneem.

Voor die diens het verskeie mense ’n ry gevorm om boodskappe en huldeblyke in ’n boek in die voorportaal aan die gesin te skryf.

[caption id="attachment_155297" align="alignnone" width="600"]Foto: Rowyn Lombard Foto: Rowyn Lombard[/caption]

Hoewel daar aanvanklik onsekerheid was of Lise sterk genoeg sou wees om die diens by te woon, het sy verrigtinge in ’n hospitaalbed onder toesig van haar mediese span bygewoon.

Dr. Dirk Hermann, voorsitter van Solidariteit, het gesê hoewel hulle begrip het dat mense graag vir Lise ’n bemoedigende drukkie sal wil gee, het haar mediese span versoek dat sy geïsoleerd moet bly omdat haar gestel nog so swak is.

Sedert die ongeluk het Lise talle operasies ondergaan en is haar linkerbeen ook gedeeltelik geamputeer. Sondag was haar eerste dag buite die hospitaal sedert die ongeluk op 16 Desember.

Die Brink-gesin was daardie dag op pad met vakansie toe hul motor se band tussen Theunissen en Brandfort in die Vrystaat bars.

André en Rachel se boeties en sussie, Mieke (15), Johann (8) en Daniël, was ook teenwoordig.

[caption id="attachment_154158" align="alignnone" width="600"]Die Brink-gesin. Die Brink-gesin.[/caption]

Ds. Jacobus het uit Efesiërs 1 gepreek. "Die meeste van ons het seker nagedink oor God se betrokkenheid, of sy nie-betrokkenheid, by die tragedie wat die Brinks getref het," het Jacobus gesê. "Want hoe moet ons dink oor so ’n tragedie wat God se kinders getref het?

“Die Lewende, Ewige, besluitende God wat reageer op gebed, is betrokke by alles,” het hy egter die roubeklaers verseker.

“Hy sal eindelik alles in almal vervul. Hy is die einddoel waarna die hele Skepping beweeg. Wat met die Brinks gebeur het, was nie die noodlot of die besluit van ’n irrasionele God nie. God was self betrokke.

"God ly saam met Danie, Lise en die familie.”

[caption id="attachment_155299" align="alignnone" width="600"]Foto: Rowyn Lombard Foto: Rowyn Lombard[/caption]

Gideon du Plessis, ’n vriend en kollega van Danie, die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het in ’n huldeblyk vertel wanneer hulle saam met die Brinks vakansie gehou het, het vakansiegangers binne ’n week na die egpaar verwys as die “mense met die kinders met die goeie maniere.”

Volgens Gideon kom die woord "engeltjie" by hom op as hy aan Rachel dink. “Sy het altyd aan die hand met een van die gesin rondgeloop.”

Elvira Burger, een van Rachel se onderwysers, het haar beskryf as ’n ongelooflike kind wat ’n besonderse verhouding met die Here gehad het.

Sy het vertel hoe dokters vir Lise gewaarsku het toe sy 24 weke swanger was met Rachel dat sy dalk gestrem sou wees. “Maar sy was ’n normale dogtertjie.”

[caption id="attachment_155300" align="alignnone" width="600"]Foto: Rowyn Lombard Foto: Rowyn Lombard[/caption]

Corrie Pretorius, wie se seun André se beste vriend was, het hom beskryf as iemand wat altyd gehelp het waar hy kon; ’n jong man wat baie volwasse was vir sy ouderdom.

Op sy beurt het Dirk gesê daar is soveel trane en dat daar nog baie trane gaan wees. Hy het bygevoeg dat die trane van duisende Suid-Afrikaners wat saam met die familie getreur het, almal bymekaargebring het.

“Ons wil bid en troos vir die krag wat hulle toon, want partykeer bemoedig hulle ons,” het hy oor die Brink-egpaar gesê.

André en Rachel se begrafnis is onbepaald uitgestel en sal net vir familielede gehou word.