Wielietjies knars oor die skaatsplankbaan in die winkelsentrum hier in Oos-Londen. Dis net ’n warboel van arms en bene.

Een van die vernuftigste skaatsers is ’n donkerkopseun met ’n denimbroek wat laag op sy heupe hang. Met sy Kustom-skoene en T-hemp wat “No Problem” op die rugkant verkondig, lyk Sam Benadie* nes enige ander tienerskaatser op die baan.

Heel vernuftig vert hy met sy skaatsplank, voete omhoog. Die ander ouens dreun by hom verby en knik die kop in erkenning oor die toertjies wat hy uithaal.

Dan ploeg Sam neer. Hy boks met sy vuis in die lug. “Dêmmit, ek land altyd op my regter; dis my slegte knie.”

Hy keer gou: “Dit gebeur darem nie gereeld dat ek so uit-wipe nie.”

In Mei verlede jaar, die dag voor Sam se 15de verjaardag, moes ma Melissa* hierheen jaag. Sam het met sy ken op ’n reling geval en daar was ’n gapende wond.

“Hierdie dinge gebeur maar as jy ’n seun het,” was haar reaksie.

Sam wys na die letseltjie onder sy ken. “Ek het nie eens steke gekry nie,’’ spog hy. “My vriend het ’n foto op sy selfoon van my wond geneem. Kyk.’’

Dan roep een van sy tjommies: “Bra, gaan hulle jou darem volgende jaar by die nuwe skool toelaat om ’n broek te dra?” Sam gooi sy arms in die lug, druk sy pinkies en duime na bo.

“Fo’ sho’. No jokes.”

Dis dan eers dat jy die borsies onder sy T-hemp sien. Want Sam is eintlik as ’n meisie gebore . . .

Moenie die volledige artikel in Huisgenoot, 13 Januarie 2011 misloop nie.