Wel, hy kom ten minste op vir sy meisie. Kanye West het op die Amerikaanse program Jimmy Kimmel Live gesê sy meisie, die werklikheidster Kim Kardashian, moet ’n ster op die legendariese Hollywood Walk of Fame kry. Nou het ’n voordvoerder vir die Walk gesê dit gaan beslis nie gebeur nie.

“Ons het nie werklikheidsterre op die Walk of Fame nie,” het Ana Martinez gesê. “Ons het nie ’n kategorie daarvoor nie. Ons is bereid om werklikheidsterre te oorweeg sodra hulle benoem is vir ’n Emmy, Grammy of Oscar, of dit gewen het. Ons sal hulle dan as ware akteurs of sangers oorweeg.”

Die uitgesproke rapper het in sy onderhoud gesê die Walk of Fame is outyds om Kim nie te oorweeg nie. Ana sê Kim is eenvoudig nie ’n ster werd nie.

“Ek haat om dit te sê, maar baie mense hou nie van haar nie,” het Ana van die Keeping Up With the Kardashians-ster gesê. “Niemand het haar nog ooit benoem nie.”

Jammer, Kanye.