Hy is die wenner van die sesde seisoen van Suid-Afrika se Idols-reeks, maar moenie dink Elvis Blueis net nog ’n Idol nie.

Dit het hy bewys toe hy iets reggekry het wat geen Idols-wenner voor hom, hier of in die buiteland, al kon doen nie – om binne net 30 dae nadat hy gewen het ’n CD uit te reik.

En daardie CD, kort en kragtig genaamd Elvis Blue, was net 29 dae op die rakke toe dit met verkope van meer as 20 000 kopieë goue status bereik.

Toe hy die nuus kry, was Elvis saam met sy vrou,Cherize, en eenjarige dogter, Lila, vir ’n paar dae met vakansie in die Tsitsikamma Nasionale Park – iets waarvoor daar in sy dae as sukkelende sanger nie maklik geld was nie.

“Ek het vier dae lank met ’n glimlag rondgeloop,” vertel hy. Hy glimlag steeds toe hy ons by sy ouers se woonstel in Northcliff, Johannesburg, inwag. Waar hy met sy arms teen die balkonmuur aangeleun staan, lyk die 32-jarige sanger gemaklik en tuis in sy nuwe tuisstad én sy eie lyf.

Plat op die aarde, vriendelik en met sy kop reg op daai rockerlyf van hom aangeskroef – dis hoe hy met ons eerste ontmoeting in die Idols-huis was en hoe hy steeds is ’n paar maande nadat hy die kompetisie met 64 persent van die stemme gewen het.

Al het hy as Idols-wenner kitsroem behaal, het hy ’n lang en moeisame pad in die musiekbedryf agter die rug. As die sanger Jan Hoogendyk, sy regte naam, het hy jare lank gesukkel om ’n lewe uit musiek te maak.

“Ná vyf CD’s wat almal volslae mislukkings was en waaroor groot drome gedroom en baie trane gestort is, is dit ’n spesiale gevoel om net ’n slag iets te verkoop. Ek kan dit vir niemand beskryf nie. Dis wonderlik dat die mense belangstel en moeite doen om my album te koop,” sê Suid-Afrika se blinkste nuwe musiekster nederig.

En teen die tempo dat daardie CD nou van die rakke vlieg, lyk dit allermins of Elvis Blue se aanhangers hom vinnig gaan vergeet . . .

Moenie die volledige artikel in Huisgenoot, 17 Februarie 2011 misloop nie.