Dit kom nadat die Amerikaanse motorvervaardiger, wat al sowat 90 jaar gelede voertuie hier begin vervaardig het, sy onttrekking uit Suid-Afrika aangekondig het.

Chevrolet-motors sal nie langer in Suid-Afrika vervaardig word nie. GM verkoop sy Struandale-aanleg vir ligte handelsvoertuie aan Isuzu Motors Bpk., asook sy minderheidsbelang in ’n vragmotoronderneming wat hy saam met Isuzu besit.

Isuzu het in Februarie ingestem om GM se 57.7% aandeel in ’n gesamentlike onderneming in Kenia te koop.

GM se ontrekking kan tot 1 500 werksgeleenthede regstreeks raak en vakbonde is ook bekommerd dat dit tot beduidende werkverliese in die verskaffingsketting kan lei.

'n GM-woordvoerder het gesê dis te vroeg om te bespiegel oor hoeveel werkers geraak sal word, maar dat die maatskappy met werknemers en hul vakbondverteenwoordigers oor alle moontlike toekomstige geleenthede sal beraadslaag.

Luidens GM se webwerf is hierdie ’n sakebesluit, gebasseer op GM se globale sakeprioriteite.

Die Nelson Mandelabaai Sakekamer het in ’n verklaring hul jarelange vennoot bedank vir hul volgehoue ondersteuning die afgelope jare – “nie net vir die Nelson Mandelabaai Sakekamer nie, maar ook vir ons lidmaatskappye en die streek se ekonomie as geheel.

"Hoewel  ons hartseer is dat GMSA plaaslike vervaardiging staak, sien ons uit na ’n groter begrip van die PSA Groep se aankoop van Opel/Vauxhall."

Die Sakekamer het die nuus van die nuwe Isuzu-sakemodel wat voortgesette vervaardiging in Nelson Mandelabaai beplan verwelkom.

Hulle hoop alles moontlik sal gedoen word "om te verseker dat Isuzu se oorname van GMSA se sakebedrywighede die kleinste moontlike impak het op die plaaslike ekonomie, ook wat die rimpeleffek op verskaffers in die omgewing betref".

Luidens GM se webwerf sal GM met PSA saamwerk aan ’n toekomstrategie vir die Opel-handelsnaam in Suid-Afrika.

“Isuzu sal sy teenwoordigheid in die land versterk met die stigting van Isuzu Motors Suid-Afrika.”

Hulle sê voorts hulle werk na ’n sake-oorgang teen die einde van vanjaar, wat onderworpe sal wees aan regulatoriese goedkeuring.

Chevrolet-, Isuzu- of Opel-eienaars sal tot die einde van 2017 nasorgdiens en onderdele deur die bestaande GM-netwerk ontvang. Alle bestaande waarborge en diensplanne sal geldig bly en ná 2017 steeds geëer word.

Vanaf 2018 sal Isuzu-handelaars nasorgdiens en ondersteuning aan Chevrolet- en Opel-kliënte verskaf.