Glynnis is een van ses kandidate wie se naam geheim gehou is toe die Demokratiese Alliansie sy lyste bekendgemaak het van wie hulle ná die verkiesing in die parlement wil hê, berig die koerant.

Die DA se federale uitvoerende voorsitter, James Selfe, sê Glynnis se bedanking sal stukrag aan die party se veldtog verleen.

“Adv. Breytenbach is op die DA se Gautengse lys vir die Nasionale Vergadering, wat haar verkiesing tot ’n parlementslid baie moontlik maak,” het hy gesê.

“Sy sal ’n waardevolle toevoeging wees tot die DA se span in die parlement. Sy is beginselvas en dapper, met ’n passie vir die reg en ’n aanvoeling vir detail. Ek is seker sy sal ’n uitmuntende wetmaker wees.”

Glynnis se prokureur, Gerhard Wagenaar, het aan die koerant bevestig sy het Vrydag kennis gegee dat sy die NVO se diens op 30 April verlaat.

Glynnis was volgens gissinge die geheime kandidaat wat nommer agt op die DA se Gautengse lys is.

- SAPA