’n Glyjakkals van Kempton Park het ’n vrou se barmhartigheid misbruik toe sy aanbied om hom te help met petrolgeld.

Mariaan Potgieter het op haar Facebook-blad geskryf daar is ’n “baie ordentlike jong man” wat op die hoek van Dann- en Van Riebeeckstraat staan.

Volgens haar voer die man aan sy ryding het sonder petrol gaan staan en hy soek ’n saamrygeleentheid na die naaste vulstasie. Hy sê hy is op pad na sy familieplaas om vir sy ouers te gaan kuier.

Volgens die Kempton Express het die man op pad na die motorhawe haar glo gevra vir geld sodat hy by sy ouers se plaas, Mooiplaas, kan uitkom. Sy het hom R500 gegee.

“Hy gee sy details, sy ouers se adres en telefoonnommers, (maar) moet hom asseblief nie help nie,” waarsku sy.

“Ek het gister (Dinsdag) in daai (strik getrap) en vandag (Woensdag) met sy ma gepraat.

“Sy weet nie eens dat hy ‘op pad’ is nie."

Mariaan sê die man se ma het teenoor haar beweer dat haar kind dwelms gebruik. Hulle verwag hom nie op die plaas nie.

“Ek het hom geglo en vertrou!” skryf sy op haar Facebook.