As jy dink jy hoef nie jou kind se melktande borsel nie omdat dit in elk geval sal uitval, moet jy weer dink.

Kinders kry gewoonlik van tweejarige ouderdom af kiestande. Hierdie tande kan eers ná 10 jaar uitval; dus is dit uiters belangrik dat jy goed na hierdie tande kyk.

Melktande lei ook gewoonlik die permanente tande in posisie. Navorsers het bevind dat enige siekte in die melktande, insluitend mond- of tandinfeksies, kan later in jou kind se lewe tot probleme lei.

SO MAAK JY

0-6 MAANDE: Al het jou kind nie tande nie, moet jy ’n nat waslap gebruik om jou kind se tandvleis skoon te maak.

4-7 MAANDE: Wanneer die eerste tand uitkom, moet jy dit skoonmaak met ’n kindertandeborsel met sagte borselhare. Jy moet jou kind ook sowat ses maande ná die eerste tand se verskyning tandarts toe vat.

1-2 JAAR: As jou kind moeilik is, kan jy hul tande in ’n gemakliker plek soos in die slaapkamer of voor die TV borsel. Tel en sing help die borseltyd vinniger omgaan; dit kan die proses ook vir hulle meer pret maak.

2-6 JAAR: Van tweejarige ouderdom kan jy ’n ertjiegrootte-hoeveelheid tandepasta op die tandeborsel sit.

7 JAAR EN OUER: Eers op sewejarige ouderdom kan jou kind hul eie tande borsel – tot dan moet jy hulle help.

ELKE 6 MAANDE: Jy moet jou tandarts twee keer per jaar besoek vir ’n ondersoek en reiniging.

TANDEVLOS: Jy kan jou kind se tande begin vlos wanneer hul tande aan mekaar begin raak. Vlos-stokkies is dalk ’n makliker opsie.

WENKE:

  • Wanneer jy na tandeborsels kyk, kan jy sowat drie paslike style kies en jou kind kan die een kies waarvan hulle die meeste hou. So voel hulle ook meer betrokke en meer geneig om dit te wil gebruik.
  • Party winkels verkoop “singende” tandeborsels; die liedjie duur die nodige twee minute lank sodat jou kind genoeg tande geborsel het teen die tyd dat die liedjie ophou.
  • Maak seker jou kind maak elke keer hul tandeborsel deeglik skoon en bêre dit in ’n droë plek.
  • Vervang jou kind se tandeborsel elke drie maande of wanneer die hare begin uitstaan.
  • Vervang die tandeborsel nadat jou kind siek was.

- Lavern de Vries