Die 31-jarige akteur is vroeër vandeesmaand aan ’n oordosis heroïen en alkohol dood. Van sy medesterre, soos Kevin McHale (25) en Jayma Mays (34), het vertel hoe hulle oor die ster gevoel het.

Kevin het op Instagram geskryf: “So dankbaar dat ek en so baie van julle die kans gekry het om Cory se oorweldigende vriendelikheid, humor en talent te aanvaar. Daar sal nie ’n dag verbygaan dat ek hom nie sal mis nie. Dankie vir al jul ongelooflike ondersteuning en geduld.”

Intussen het Jayma aan E! News gesê: “Daar is so baie goed om oor Cory te onthou. Hy was so ’n prettige ou en ek het net fantastiese, wonderlike herinneringe van werk saam met hom. Ek kan daardie herinneringe altyd met my saamneem.”

Cory se meisie, sy medester Lea Michele (26), het ook haar stilswye oor Cory se dood verbreek. Nadat sy ’n foto van hulle twee op Instagram geplaas het, het sy geskryf: “Dankie, almal, dat julle my met jul enorme liefde en ondersteuning deur hierdie tyd help. Cory sal altyd in my hart wees.”