Die skepper van Glee het besluit hy gaan nie Cory Monteith, wat verlede maand aan ’n oordosis dood is, se karakter ook aan ’n oordosis laat sterf nie.

Ryan Murphy gaan wel steeds die karakter Finn Hudson laat sterf. Cory (31) is op 13 Julie dood aan ’n kombinasie van heroïen en alkohol.

Ryan het aan Deadline gesê: “In ’n stadium sou ons sy karakter aan ’n oordosis laat sterf, maar het toe daarteen besluit. Ons wil nog nie sê hoe ons dit gaan doen nie; miskien sê ons glad nie hoe daardie karakter sterf nie. Die idee is dat die oorsaak interessant en selfs morbied kan wees, maar ons sê vroeg in die episode: ‘Hierdie episode is ’n viering van daardie karakter se lewe.’ Dit klink dalk vir sommige mense vreemd, maar dit het na uitbuiting gevoel om dit anders te doen.”

Dit was reeds vir die spelers en filmspan moeilik om sonder Cory terug te gaan werk toe, en Ryan glo die verfilming van die huldeblyk-episode gaan nog moeiliker wees.

Hy het gesê: “Dis moeilik omdat ons basies reguit van die gedenkdiens is na die aanpassing van die twee Beatles-episodes, wat ek dink prettig en optimisties is, soos ons dit beplan het. Die spelers en filmspan het troos daarin gevind om saam te wees. Hulle het gesukkel om daardie Beatles-liedjies te doen. Daar was trane op die stel. Dit was vir baie mense moeilik. Maar die werklik moeilike ding kom nog. Ons begin vandeesweek die huldeblyk-episode skiet. Ons is nou net besig om dit af te handel en teen die einde van die week sal ons dit na 20th Century Fox Television stuur vir goedkeuring.

“Dis ’n pragtige huldeblyk en dis ’n eerlike blik op hoe jong mense rou. Daarna sal ons twee of drie weke neem om koppe bymekaar te sit. Ons was lief vir Cory en vir Finn. Dit is ’n groot verlies en baie hartseer om hulle nie meer by ons te hê nie. Ons probeer ’n episode skep wat nie net gaan oor rou nie, maar oor baie van die jong aanhangers wat ook rou.”