Ryan het voor die dood van Cory Monteith, een van die hoofrolspelers, al die laaste tonele geskryf. Cory en Lea Michele sou daarin verskyn. Die akteurs, wat in die regte lewe ook verlief was, het die rolle van die paartjie Rachel Berry en Finn Hudson vertolk.

Nadat Cory in Julie dood is aan ’n oordosis heroïen en alkohol, moes Ryan weer dink oor wat die fokus van die finale seisoen sal wees.

Hy het op Woensdag 16 Oktober in Los Angeles by ’n geleentheid ter ere van die FX Network gesê: “Die finale jaar van die program, wat volgende jaar sal wees, is rondom die storie van Rachel en Cory/Finn ontwerp.

“Ek het dit altyd geweet, ek het altyd geweet hoe dit sou eindig. Ek het geweet wat die laaste toneel was; hy was daarin. Ek het geweet wat die laaste sin was; sy het dit aan hom gesê.”

Ryan (47) moet nou ’n nuwe storielyn vir die finale episodes uitdink.

Altesaam 7,4 miljoen mense het op 10 Oktober gekyk na The Quarterback, die spesiale Glee-episode ter nagedagtenis aan Cory en sy karakter.