Glee het Donderdag in ’n spesiale aflewering hulde gebring aan die oorlede akteur Cory Monteith. Sy meisie, Lea Michele, het ’n roerende weergawe van Make You Feel My Love gelewer.

Die Glee-span het Donderdagaand emosioneel van Cory Monteith afskeid geneem en hulde aan hom gebring.

Daar is nie in die roerende aflewering, The Quarterback, verklap hoe Cory se karakter, Finn Hudson, dood is nie. Die klem het geval op die geheim van sy gesteelde kleurbaadjie, en die groep wat hom groet met liedjies wat hulle aan hom laat dink.

Die Glee-akteurs het op die McKinley High-verhoog begin met ’n somber weergawe van die musiekkonsert Rent se Seasons of Love. Die karakters het hul hartseer op verskillende wyses uitgedruk. Kurt (Chris Colfer) het gehuil, Puck (Mark Salling) het hom tot alkohol gewend, Sue Sylvester (Jane Lynch) het grappies gemaak en Santana (Naya Rivera) was woedend.

Van die beste liedjies in hierdie hartseer aflewering was Stand by You gesing deur Mercedes (Amber Riley) en Fire and Rain van Artie (Kevin McHale) en Sam (Chord Overstreet).

Lea, wat in Glee die rol vertolk van Finn se meisie, Rachel Berry, het aan die einde van die program ’n roerende weergawe van Bob Dylan se Make You Feel My Love in die Glee-klaskamer gelewer.

Kevin McHale, wat die rol van die rolstoelgekluisterde Artie vertolk, het daarna getwiet: “Vanaand se Glee is gemaak met baie liefde & baie trane . . ons mis jou Cory”.

Cory is op 13 Julie dood aan ’n oordosis heroïen en alkohol.