MET hul troue 11 jaar gelede was hulle een van die bekendste glanspaartjies in die land: Susan Coetzer van die TV, en Philip Moolman, ook ’n bekende TV-gesig en sanger.

Deur die jare het hulle ewe glansryk en steeds dolgelukkig bly lyk, ook vir gaste by hul teaterrestaurant Die Blou Hond in Johannesburg. Min mense het geweet hoe onstuimig dié huweliksbootjie ronddobber . . .

Nee, dit was g’n sprokieshuwelik nie, onthul die aktrise in haar nuwe boek, All-Bran vir die Siel. Die probleme het trouens al voor die troue begin, toe sy ontdek Philip was ontrou aan haar.

Die eerste jare van hul huwelik was stormagtig. Hulle het gereeld baklei en selfs by beraders beland, onthul sy daarin.

Die idilliese prentjie van Philip agter die mikrofoon by die Blou Hond en sy wat glimlaggend toekyk, was dikwels maar pure skyn. Al was daar goeie tye moes sy ure lank skottelgoed was, met administratiewe werk sukkel en tussendeur vir vrouetydskrifte as vryskutjoernalis skryf.

“Ek dink die boek wys mense juis dat dinge nie altyd is soos dit lyk nie. Dat almal mens is. Dat dit altyd ’n pad is wat jy moet stap,” sê sy.

Mense vra haar of sy nie skaam is oor alles wat sy in die boek vertel nie, onder meer dat sy pas nadat sy en Philip ’n verhouding aangeknoop het, besef het hy het haar drie keer met “los” meisies verneuk.

“En daar was prostitute op my werf en dwelmmisbruik.”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 25 November 2010.