Hulle was nou wel nie so opgedollie soos ons hulle gewoonlik sien nie, maar daar was ‘n hele klomp glansmense wat Sondag die speke laat sing het by die Cape Argus Pick ‘n Pay-fietstoer.

Die voormalige Springbok-rugbyspeler, Bob Skinstad, was een van die groentjies wat vir sy eerste Argus aangetree het. “Dit was groot pret,” vertel hy. En dit lyk asof hy darem nog fiks is, al bring hy nie meer tyd op die rugbyveld deur nie. “My bene is net effens styf. En my boude is a bietjie seer. Ek is nie gewoond aan die harde saal nie,” lag hy.

Skinstad is deesdae op naweke die anker-aanbieder vir 94.7 Highveld Stereo and 94.5 Kfm se ontbytprogram.  “Volgende naweek is dit K-Day, so nou is dit volspoed vorentoe. Dit gaan ‘n groot dag wees en ek sien vreeslik uit daarna,” sê hy.

Die rolstoel-atleet Ernst van Dyk was Sondag ook op die pad. Maar vir hom was hierdie wedren net vir pret.

“As jy heel agter wegspring soos ek het, het jy nie eintlik ‘n keuse as om dit rustig te vat nie. Dit was pret, ek het nie te hard gewerk nie en ek was maar versigting deur die meer gevaarlike dele van die roete. Ek het myself gate uit geniet,” sê hy.

En omdat hy natuurlik topfiks is, was hy Maandagoggend sommer vroeg al weer terug in die kantoor.

Moet liewer nie vir die voormalige mej. Suid-Afrika Jo-Ann Strauss en die sanger Arno Carstens vra hoe hul Argus verloop het nie. Hulle is al moeg verduidelik dat die berigte in die naweek-koerante dat hulle sou deelneem, eintlik net die gevolg van ‘n misverstand was.

Die twee het hulle ondersteuning aan die voormalige Springbok-kaptein Francois Pienaar se Make a Difference-stigting gewys deur met fietsry-pette vir die media te poseer. En toe berig die koerante verkeerdelik dat hulle sou deelneem.

“Ek weet nie waar kom hulle daaraan nie. Die naaste wat ek ooit aan ‘n fiets kom, is in die gimnasium,” sê Jo-ann.

Carstens lag maar net saam. ‘Ek hou nogal van hoe sexy ek lyk in fietsry-klere,” spot hy. “Ek was daar om die saak te ondersteun, beslis nie om fiets te trap nie. So ek kan jou verseker my bene voel wonderlik vandag.”