Die ammoniak waarmee jy jou dreine skoonhou, kan in die verkeerde handjies ’n gevaarlike ding word. Die meeste huishoudelike skoonmaakmiddels is giftig en as nuuskierige snuiters dit beetkry, kan die gevolge selfs noodlottig wees. Die meeste gevalle van vergiftiging gebeur in die huis en kinders jonger as vyf jaar is meestal die slagoffers.

Sowat 80 persent van alle kinders wat elke jaar vergiftig word, is onder vyf jaar oud, sê dr. Joy Veale van die Tygerberg-gifinligtingsentrum by die Tygerberg-hospitaal in Bellville, Kaapstad. “Hulle sluk enigiets van skoonmaakmiddels, paraffien, terpentyn en motballetjies tot rotgif.”

Kinders kan natuurlik ook jou medisyne of selfs plaagdoders in die hande kry. Jou huis en tuin is omtrent ’n mynveld en meestal kom jy eers agter jou kind het dalk Ouma se pynpille gesluk nadat die medisyne in die bloedstroom opgeneem is.

Gifstowwe soos insekdoders en ander plaagdoders kan brandmerke in of rondom die mond, naarheid, maagkrampe, braking, diarree, asemhalingsprobleme, duiseligheid, lomerigheid of selfs stuipe veroorsaak.

Plaagdoders kan ook deur die vel geabsorbeer word. En sure soos swembadsuur of alkalië soos ammoniak kan die vel en oë beskadig. Die vel kan rooi, geswel of gebrand wees en blase vorm, en die oë kan rooi en geïrriteerd word en traan. Of ’n giftige insek kan jou kind byt.

Lewensredder

Laai gerus hierdie handige gids van gif, behandeling en noodnommers af, druk dit uit en hou dit op ’n handige plek soos teen die yskas.

Noodhulp PDF

- Betina Louw