Die kykers is mal daaroor om haar te haat. Maar sodra Gita McGregor te lank uit 7de Laan is, begin mense na die opwindende karakter verlang. Sy keer vanaand terug Laan toe en dis nie lank voor sy weer moeilikheid maak nie.

Ons het laas vir Gita (Jo da Silva) op die kassie gesien toe sy in April almal in die Heights by die 49M-kragbesparingsprojek betrek het. Dit was haar plan om almal se guns te wen, nadat sy Vince en Marko verkeerd opgevryf het.

Paula en Altus het ’n maand se gratis huur en ’n week vir twee in Istanboel gewen en Oubaas het ook ’n bonus gekry omdat hy die kompetisie help reël het. Die positiewe reaksie het Gita oorstelp van vreugde.

Daarna was Gita baie besig met haar eie dingetjies en ons het nie veel van haar gesien nie. Vanaand kom draai sy by die bekendstelling van Annelie se nuwe klerereeks. Sy daag op met ’n halssnoer wat na duur smaragte lyk. Errol vra haar waar

sy die pragstuk kry en dan maak Gita sommer ’n storie op om Errol om dit bos te lei.

Dit gaan dalk ’n duur les word vir Gita, want wanneer ’n mens vir ’n joernalis jok, gaan jou leun dalk gepubliseer word. Soms lees opportunistiese diewe ook die koerant. Op Donderdag 18 Julie kom soek twee vreemde mans na Gita.

Ons hoop daar is iemand in die Laan wat dalk na Gita sal omsien, want anders gaan sy diep in die moeilikheid beland...

Hier is ook ’n kykie na wat julle vanaand van Annelie se bekendstellingsmodeparade op 7de Laan kan verwag.

Annelie se bekendstellingsmodeparade

Moet dit nie misloop nie; daar gaan hope drama wees.Ons het vinnig agter die skerms gaan loer.

Arme Annelie (Donnalee Roberts) se senuwees is die afgelope paar weke behoorlik getoets.

Alles wat moontlik verkeerd kon loop, het! Eers was daar die fiasko met die lap wat handgeverf moes word en toe nie uitgekom het soos sy dit wou hê nie; toe brand die sirkusrekwisiete vir haar funksie uit, tussendeur sukkel sy met haar gevoelens vir Pieter en boonop verstuit Felicity, wat haar show stopper moet dra, haar enkel.

Eindelik, en ten spyte van al die tantrums wat Gloria by die fabriek gegooi het, is die uitrustings klaar en dit lyk beslis na iets ongewoons.

KLIK HIER vir foto's van die mode-parade. 

Moenie vanaand se aflewering van 7de Laan, om 18:30 op SABC2, misloop nie!