Die eienaar, Cecil Williams (60), het saam met sy swart labradorhond, Orlando (11), op die platform van ’n New Yorkse stasie gestaan toe Cecil sy balans verloor en per ongeluk op die treinspore beland. Time.com berig Cecil het sy bewussyn verloor, maar ooggetuies sê hulle het gehoor hoe Cecil tydens sy val uit nood geskree het.

Volgens huffingtonpost.com het ooggetuies gesien hoe die hond probeer het om sy eienaar se val te keer, maar toe dit klaar te laat was, het hy agter sy eienaar aan gespring.

“Hy (die hond) het hom gesoen en probeer om hom te beweeg,” het ’n ooggetuie aan die New York Post gesê.

Toe die drywer van ’n aankomende trein besef daar is ’n man en hond op die spoor, het hy rem aangeslaan, maar dit was tevergeefs: Twee van die trein se waens het oor hulle gery.

Maar noodpersoneel het besef die viervoetige lewensredder en sy eienaar lê knus tussen die treinspore en dat hulle die verplettering van die trein se wiele vrygespring het. Hulle het die treindrywer verder laat ry sodat hulle Cecil en Orlando kon bevry.

“Die hond het my lewe gered; ek is verstom,” het Cecil in trane gesê in ’n hospitaal, waar hy van ’n klein kopbesering herstel.

Orlando het geen beserings opgedoen nie; hy is perdfris en aan sy baas se sy.

Kyk die video hier:

– Christiaan Boonzaier