OF HY nou met sy kaal hande ’n gholfbal vang wat teen 250 km/h beweeg of op een dag in al nege provinsies  in Suid-Afrika ’n ronde  speel, Heinrich du Preez is fanaties oor gholf.

En deur sy obsessie met die sport het hy merkwaardige prestasies behaal. Dis immers sy naam wat in die rekordboeke opgeteken staan agter nie minder nie as 15 Guinness-wêreldrekords, meer as waarmee enige ander Suid-Afrikaanse speler kan spog.

Sy aanslae op die een rekord ná die ander het in 2006 begin as ’n manier om reklame vir ’n plaaslike radioprogram oor gholf te maak wat hy wou aanbied.

Binne vyf jaar het Heinrich (37) hom as uithougholfspeler gevestig. Die geld wat hy in die proses ingesamel het, het hy aan verskeie liefdadigheidsorganisasies landwyd geskenk.

Die blonde oudsakeman wat 1,93 meter in sy sokkies staan, lyk nie na jou tipiese gholfspeler nie. Maar sy geliefde gholfstokke  swaai hy op die baan met die slag van ’n man wie se lewe om hierdie sport draai.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 24 Maart 2011