IN SY kraakwit pak, prysetiket so R50 000, staar die jong Arabier openlik na die beeldskone danser by die klub Pink Paradise in Parys waar sy haar heupe verleidelik swaai. Sy swaai nog ’n keer – en haar lang kastaiingbruin hare klap teen ’n kers en vat vlam.

Die man waai vervaard om haar aandag te trek, en so word ’n potensieel lelike ongeluk afgeweer.

Die Samaritaan is Saadi Ghaddafi, seun van Moeammar Ghaddafi, president van Libië, en daardie aand word die eerste in ’n ses jaar lange verhouding wat ’n boeiende blik op die familielewe van een van die wêreld se bisarste heersers sal bied.

VANDAG is Saadi ’n kolonel in sy pa se weermag en desperaat besig om te keer dat dié se heerskappy van meer as 40 jaar in daardie land gewelddadig beëindig word. Maar destyds, vertel die eertydse danseres Dafinka Mircheva, was al sy aandag op ’n verstommend uitspattige leefstyl gevestig.

Die Bulgaarse meisie was toe 21 en Saadi 31, en sy vertel sy personeel het destyds beweer hy bestee byna R2 biljoen per jaar aan privaat stralers, vyfsterhotelle, supermotors, skootdansers, juwele en ontwerpersklere.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 24 Maart 2011