Sy is al gesien in Egoli, 7de Laan en Villa Rosa, en tot onlangs het sy mense laat regop sit in haar rol as die gewese model Monique in die TV-reeks Vallei van sluiers. Ons praat natuurlik van Jana Fischer (31), wat op Instagram aangekondig het sy en haar man, Stephan Niehaus, verwag hul eersteling.

’n Trotse Jana het dié stralende foto van haar swanger-magie op Instagram gedeel met die hutsmerk #21weeks daarby. By navrae het sy bevestig dat die kleinding ’n dogtertjie is. Gelukwensing het ook op haar ander sosialemediaplatforms ingestroom.
Jana en Stephan is op 24 Mei 2014 getroud. Hy het die gewilde Milhaus Food and Wine Bar in Kyalami begin.

Ons het ook onlangs berig dat die Top Billing-aanbieder Jo-Ann Strauss in 2016 haar tweede kind verwag sowel as die gewilde sangeres Sorina Erasmus.