Suidooster se geliefde oom Fasie tree af.

Dié oom van die koffiekroeg het kykers laat skater met sy selfie-manewales om liefde te vind, maar Donderdag verskyn Johan Botha, wat die rol vertolk, die laaste keer in Suidooster. Hy tree af.

Die storie van Suidooster gaan oor ’n klein winkel- en sakesentrum in Ruiterbosch, ’n fiktiewe voorstad in Kaapstad, waar drie gesinne in mekaar se doen en late betrokke is. Hulle deel in mekaar se lief en leed, maar natuurlik is daar ook vreugde, vetes, twis, liefde, wraak, misverstande en jaloesie.

Hoekom verlaat hy die reeks? “Die ou wat Fasie gespeel het (ekke) het ’n rumatiek-lyf, wat bygedra het tot ietwat van ’n eensaamheid, veral oor naweke,” skerts hy.

“Dat Lida (my vrou) 500 km ver op De Rust gebly het en ek net vir een naweek in sewe weke volgens kontrak vir haar kon gaan kuier, het erg beklemmend begin raak. Wat dinge erger maak, is die feit dat dit moeiliker raak om woorde te onthou met die vaal word van die grysstof ná 76 jaar. Dit en die wete dat jou spel verswak deur die jare het ou Faas laat besluit om pad te gee -- uit selfverdediging,” sê Johan en lag.

Hier is ’n paar hoogtepunte van oom Fasie in die reeks:

“Dit gaan rustig op De Rust,” laat Johan weet uit die dorpie waar hy nou al ’n paar weke weer permanent saam met sy geliefde aktrise-vrou, Lida (80), woon.

“Ek en Lida het sowat ’n jaar gelede besluit om te trek van Leipoldtville af De Rust toe,” vertel Johan.

Hulle het 18 jaar op daardie dorpie gewoon. De Rust is ’n klein dorpie aan die ingang tot Meiringspoort net 35 km van Oudtshoorn, die tuiste van die gewilde Klein-Karoo Nasionale Kunstefees. “Dis waar ons elke jaar ons ou teatervriende kan sien ná ons ‘uittrede’, min wetend dat ons nog erg besig gaan bly,” voeg hy by. Hy in die rol van Fasie en Lida vir ’n rukkie as sy suster in die reeks.

“Vir nou beplan ons net ’n bietjie rondrits in ons nuwe (stokou) woonwaentjie en wag op nuwe aanbiedings.”

Hy mis die samesyn met almal op die stel van Suidooster. “Ek mis die wegkom uit myself en die wegkruip in ’n ander karakter. Om (kamma) weer verlief te raak op ’n kranke ouderdom, om beledigend te wees teenoor Cedwyn sonder om bang te wees hy gaan jou dik tik. Om baas te wees van jou eie koffiekroeg waar jy kan hiet en gebied en jy kan speel teenoor jou rêrige vrou wat nou jou suster is en jy lelik met haar kan wees en sy mag net reageer soos die teks vir haar sê. Maar eintlik mis ek ou Fasie. Hy het vir my ’n werklike mens geword en nou gaan hy net verdwyn. Dis nogal sad.”

Die laaste paar maande op Suidooster was vol teenstrydighede vir hom. “Die wete dat ’n mens sal moet afskeid neem van almal, die uitsien na ’n tyd van laat slaap sonder om woorde te leer, die gemis van wonderlike vroue wat jy kan vashou sonder sexual harassment-klagte (die regisseur Shirley Ellis reken dit moet ’n bewese 40 sekondes duur) en les bes, die genade om Lida by my te kan hê.”

Vreemd genoeg was daar vir hom nie eintlik snaakse oomblikke op die Suidooster-stel nie. Sy boodskap aan Suidooster-aanhangers: “Doe zo voort! Julle het goeie smaak.”