Die 22-jarige voormalige deelnemer aan Amerika se weergawe van The Voice was in Orlando, Florida, vir ’n optrede by The Plaza Live.
Volgens die polisie was sy en lede van die rockgroep Before You Exit besig om handtekeninge uit te deel toe die onbekende man met sy vuurwapen losbrand. Christina is raakgeskiet en na ’n nabygeleë hospitaal gehaas waar sy aan haar wonde beswyk het.

Haar broer, wat ook op die toneel was, het die aanvaller platgeduik ná hy vir Christina geskiet het. Tydens die struweling het die aanvaller sy geweer op homself gedraai en selfdood gepleeg.

Haar broer word nou wyd as ’n held bestempel omdat hy gekeer het dat meer mense doodgeskiet word.

Nuus van die voorval het spoedig op sosiale media versprei. Christina het bekendheid verwerf nadat sy as deelnemer aan die sesde seisoen van The Voice derde geëindig het. Die sanger Adam Levine het haar afgerig.

Die saak word ondersoek.

Bronne: BBC; The Guardian; The Independent