Dis weer tyd vir Ons Stories, ’n reeks TV-flieks wat die verhale van Suid-Afrika se Afrikaanse gemeenskappe vertel.

Ná die sukses van die eerste 20 flieks is daar besluit om nog 15 unieke Afrikaanse stories te vertel, uit die pen van skrywers van regoor die land.

Die temas van die 15 uurlange enkeldramas is uiteenlopend en divers. Daar is wanfunksionele gesinne en gemeenskappe, die wonde wat apartheid gelaat het, die euwel van afwesige ouerfigure, armoede, liefde, die invloed van dwelms en die siklus van die bendekultuur.

Van die karakters is skelm en windmakering; ander is weer pront en parmantig. Elke storie is deur ’n ander skrywer geskryf, speel af in ’n ander dorp of gebied en het ander karakters. Sommige het geheime om weg te steek, terwyl ander ons hoop gee vir die mensdom.

Elke storie is deur ’n ander skrywer geskryf, speel af in ’n ander dorp of gebied en het ander karakters. Niemand gaan onaangeraak bly deur die verhale van óns mense nie.

Ons Stories skop af op 8 Oktober om 20:30 op kykNET & Kie.