Maandag rondom 03:00 is by ’n gewilde kroeg ingebreek en daar is met 14 drankbottels onder die arm weggekom.

Die manne het boonop duur smaak: Die buit het topgehalte-konjak en -whisky ingesluit.

Een van die verdagtes, met ’n rooi laphoed en ’n opmerklike bokbaard, het nogal die moeite gedoen om handskoene aan te trek. Maar o wee, hulle het nie rekening gehou met die veiligheidskamera wat hulle mooitjies in aksie vasgevang het nie.

Johan Rheeder, bestuurder van die kroeg, het aan Herald Live gesê die skade beloop sowat R7 000.

Genadiglik was die verdagtes so vasbeslote of so dors dat hulle ’n skootrekenaar en kontant geheel en al misgekyk het.

Hul onwelkome “besoek” aan die kroeg het hulle net opgewarm vir hul volgende besoek - en dit was nie vir Nagmaaldoeleindes nie.

Die Word of Faith Christelike Sentrum in Mangold Park was volgende in hul visier. Nadat die deur oopgebreek is van die sentrum, wat ook as ’n kinderkerk gebruik word, het die verdagtes ’n televisiestel van die muur probeer afruk.

Al wat hulle egter reggekry het, was om die stel te breek.

Weer het die manne nie tred gehou met ’n veiligheidskamera nie. Toe een dit egter besef en sy kop probeer bedek, was dit reeds te laat.

’n Saak is by die Walmer-polisie aanhangig gemaak.

Die hoop beskaam nie dat die duidelike beeldmateriaal die lang arm van die gereg in staat sal stel om te verseker dat die spannetjie hul volgende “vakansie” agter slot en grendel sal deurbring.

Bron: heraldlive.co.za