Maar kwalik ’n maand later het Ben Affleck en Jennifer Garner – die paartjie wat ook in die goeie ou dae as “BenJen” bekend gestaan het – besluit om te skei. Hulle het aanvanklik in Junie 2015 uitmekaar gespat. Dit was ’n dag ná hul tiende huweliksherdenking. Daarna het die tonge geklap oorbewerings dat Ben en hul kinderoppasser, Christine Ouzouonian, heeltemal te liefies met mekaar was.

In ’n verklaring wat destyds gesamentlik deur Ben en Jennifer uitgereik is, het hulle dit duidelik gemaak dat hul kinders se welstand die hoogste prioriteit moet geniet, ’n onderneming wat hulle die afgelope twee jaar gestand gedoen het.
Dit sou eers op 26 Februarie 2016 wees dat Jennifer vir die eerste keer openlik oor Ben en die kinderoppasser gepraat het. “Ons was reeds vir maande van mekaar vervreem toe ek van die kinderoppasser te hore gekom het. Sy het niks met ons besluit om te skei te doen nie. Sy was nie ’n deel van die oorweging nie,” het sy aan Vanity Fair gesê.
Volgens TMZ het altwee Donderdag, 13 April, dokumente aan die hof voorgelê om hul huwelik finaal te beëindig. Hulle het selfs identiese dokumente ingedien, oënskynlik om die proses nie te lank uit te rek nie.

Luidens berigte vra altwee vir gesamentlike toesig oor hul drie kinders: Violet (11), Seraphina (8) en Samuel (5).

Ben het onlangs in ’n Facebook-inskrywing gesê dat hy hoop op ’n “positiewe herstel” nadat hy stilletjies hulp vir sy alkoholverslawing gekry het.

Hy het gesê een van die redes dat hy weer teen die drankduiwel baklei het, was om sy gesinslewe te verbeter.

Die egskeiding kan glo binne die volgende ses maande afgehandel word.

Bronne: Cover Media, etonline.com, abc7ny.com