En nou wink die kansel ook in die regte lewe vir die akteur David Vlok.

 Hy het die afgelope naweek verloof geraak aan Joanika Haasbroek, ’n pragtige konferensiebeplanner van Johannesburg.

kykNET het die nuus Maandag op sy webtuiste gedeel. Die groot oomblik, waaraan David en die sanger en sjef Lochner de Kock ’n jaar beplan het, het op 10 Junie gedurende ’n ete by Lochner se huis plaasgevind.

 Hy het die paartjie met ’n heerlike ete bederf en dis in die romantiese atmosfeer wat David die ja-woord gevra het – en dit ook gekry het.  

Joanika was oorstelp van vreugde en moes later die aand net seker maak of sy wel ja gesê het, berig kykNET. 

 David, wat baie mense ook nog sal onthou as die sluwe Tim Vorster van die destydse M-Net-sepie Egoli, het verlede jaar in ’n onderhoud met Huisgenoot vertel hy was amper 50 toe hy “ware liefde” vind. Dit was ses jaar gelede toe Joanika hom uitboul.

“Die lewe is goed. Ek het die perfekte meisie en die perfekte werk en ek is gesond,” het David toe vir ons vertel.  

“Sy (Joanika) is my juweel. Ek kan soms gespanne raak, maar sy is soos my kalmeerpilletjie.”

 Baie geluk met die blye nuus, David en Joanika!