Die welbekende oud-Egoli-akteur Hennie Smit is tans in die hospitaal met longontsteking en ’n gebreekte rib, berig Channel24.

Die akteur se bekendste rol is dié van Bertie in die M-Net-sepie, en hy vertolk tans die rol van Dêda in Lefra Productions se My Boetie se Sussie se Ou.

Volgens ’n mediaverklaring van Charl Senekal, Lefra Productions se bemarkingsbestuurder, is Hennie Vrydag gehospitaliseer.

“Dit sou lewensgevaarlik wees vir Hennie om die hospitaal te probeer verlaat en sy rol hervat,” het Charl gesê.

Die regisseur van die toneelstuk, Frans Swart, moes Hennie se rol oorneem sodat die toneelstuk oor die naweek kon aangaan.

Hennie het ’n verklaring uit sy hospitaalbed uitgereik waar hy sê die “siekte het my onkant gevang.

“Ek kry die beste behandeling moontlik en ek glo en vertrou ek gaan gesond wees vir ons volgende vertoning Dinsdag in Windhoek, Namibië,” het Hennie gesê.

Bron: Channel24